•  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

HS Duineveld Kultuur

By Hoërskool Duineveld is Kultuur 'n groot lekkerte.  Ons oefen Maandae en Woensdae-middae aan ons aktiwiteite.
Wat bied Hoërskool Duineveld ten opsigte van Kultuur?

MUSIEK
In Graad 8 en 9 word musiek as buite-kurrikulêre aktiwiteit aangebied om leerders voor te berei vir die Graad 10 - 12 VOO fase, waarin Musiek as 'n skoolvak aangebied word.  Leerders word vir UNISA en Associated Board of the Royal Schools of Music praktiese- en teorie eksamens voorberei.
Instrumente:  Klavier, blokfluit en viool.

KOOR
Koor oefen weekliks op Maandae en Woensdae.
Somertye:  14:00 - 15:00
Wintertye:  14:30 - 15:30

REDENAARS
Ons is weer vol moed  vir die nuwe jaar en nuwe uitdagings en is van plan om weer ons pad in 2012 oop te praat!
Redenaars neem gewoonlik aan die begin van Februarie deel aan 'n siftingskompetisie wat in die konferensielokaal van die Hotelskool plaasvind. Daar word dan ongeveer 6 leerders aangewys om deel te neem aan die ATKV-Redenaars se uitdunrondte te Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas.  Die 6 leerders bestaan gewoonlik uit 3 juniors en 3 seniors.
Die leerders dek 'n verskeidenheid voorgeskrewe temas soos skoene, vlamme, integriteit, roer ens.  Die leerders wat in Kakamas deurdring, neem deel aan die halfeindrondte in Kimberley.

TONEEL
Die toneelgroep bestaan uit ongeveer 18 leerders.  Hulle beplan om vanjaar die Namakwaland, Fraserburg en Bloemfontein Toneelfeeste by te woon.

CALVINIA EISTEDDFOD
Terwyl die toneelgroep oefen, oefen die individuele drama items en Volkspele.  24 van ons leerders gaan aan die Calvinia Eisteddfod deelneem aan voordrag, prosa, monoloog, tweespraak, sang, toonset van gedig en Volkspele.

ATKV
Die ATKV het vanjaar die Graad 8 leerders met 'n waatlemoenfees verras aan die einde van die Graad 8-kamp.
Hulle het 'n boekuitstalling gereël, asook 'n besoek van die bekende skrywer, Carina Diedericks-Hugo.
Die ATKV het gehelp met die aanbied van interne Brugbou-kompetisie. 
Daar is ook gereël vir die aanbied van 'n dramakursus onder leiding van Mnr. Barney Mans.
Japie Cloete (tans 'n Graad 11 leerder) is aangewys om Duineveld ATKV-Jeugtak te verteenwoordig by die Kongres wat in Junie sal plaasvind.
Die ATKV beplan ook 'n lekker kultuuraand, sowel as 'n kunsuitstalling later vanjaar.

AFRIKAANS EKSPO
Daar neem jaarliks 85 skole deel aan die skryf-, skilder- en fotoprojek van die Dameskring, Media24 en die Universiteite.  In 2011 het Duineveld 'n kategoriewenner en 3 goue medaljes opgelewer.

TAALBOND TWEETALIGHEIDSEKSAMEN
Dit is altyd goed om te weet op watter vlak jou taalvaardigheid is.  Daarom bied ons jaarliks aan leerders geleentheid om deel te neem aan hierdie eksamens, wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aangebied word.

STAD KAAPSTAD TONEELKOMPETISIE
Daar het vanjaar 9 leerders aan die oudisies in Kakamas deelgeneem.  Wilco Strydom is gekies as 1 van die 60 finaliste.  As deel van die oudisie moes die leerder 'n gedig en prosa aanbied en 'n improvisasie-oefening doen.

KULTUUR-TOER NA KAAPSTAD
Alle Velties wat betrokke is by enige kultuuraktiwiteit, het die geleentheid om deel te wees van dié toergroep.  Besoek gaan gebring word aan die Kunstekaap Teater, waar die leerders die Stad Kaapstad Toneelkompetisie sal bywoon.  Daar sal ook die geleentheid wees om op 'n begeleide toer te gaan deur die Kunstekaap Teater.  Verder gaan 'n kultuur-skakeling gehou word met die leerders van Hoërskool Bellville.  Die leerders gaan ook die geleentheid hê om 'n kunsuitstalling by te woon.

BRUGBOU

Brugbou is ‘n aktiwiteit wat dit ten doel stel om belangstelling in tegnologiese- en ingenieursvaardighede by leerders aan te wakker en te stimuleer. Ons bied jaarliks twee interne brugboukompetisies in Februarie en Oktober aan.

Alle leerders wat belangstel kan inskryf in spanne met drie leerders per span.

Die Fisiese Wetenskap onderwysers gee leiding aan die deelnemers.

Daar word ook jaarliks ‘n streeks brugboukompetisie gereël deur die plaaslike ingenieurs onder leiding van SAICE waartydens drie van ons spanne deelneem. Die span wat hier wen, kwalifiseer om aan die Nasionale Kompetisie te Pretoria te gaan deelneem in Augustus. Velties het al by meer as een geleentheid die voorreg gehad om die skool op hierdie vlak  te verteenwoordig

EXPO

Die EXPO vir Jong Wetenskaplikes bied aan leerders die geleentheid om hul jaar projekte in verskeie vakke bv. Fisiese Wetenskap, Wiskunde, Tegnologie ens  te vertoon. Die Eskom Streeks EXPO vind jaarliks in Augustus in Postmasburg plaas, waartydens leerders verskeie toekennings ontvang. Dit sluit in goud tot brons toekennings asook spesiale toekennings vir sekere kategorieë. Leerders kan ook by die geleentheid kwalifiseer om aan die Nasionale EXPO te Pretoria te gaan deelneem.

Hierdie is ‘n voorreg wat baie Velties al te beurt geval het. Op Nasionale vlak het Velties ook al gekwalifiseer om die skool Internasionaal te gaan verteenwoordig.

Van ons leerders het al op hierdie wyse vir hul studiebeurse verwerf ens.

EXPO is ‘n aktiwiteit wat leerders se entreprenieurs vaardighede, wetenskaplike denke en vele meer ontwikkel.