Skoolhoof
SKOOLHOOF: Dr. AA Andrianatos
Hier by Hoërskool Duineveld glo ons dat ons werk met die kosbaarste besitting wat God aan die mens gegee het, nl. Sy kinders.
Alle rolspelers, nl. die onderwysers, die ouers en die skool het almal 'n besondere taak om te vervul. Dit is ons gesamentlike taak om te verseker dat gebalanseerde, toegeruste kinders ons huise en skole verlaat om die slaggate van die lewe voor hulle met selfvertroue aan te durf.
Ons streef, deur aan ons leerders geleenthede te skep, na uitnemendheid in ons skool en poog om elke leerder vir die lewe voor te berei om as volwassene sy/haar plek in die samelewing te kan volstaan.
Gedragskode
Die toepassing en implementering van die bepalings van die gedragskode geskied in oorleg en in terme van die bepalings van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika Wet nr. 108 van 1996 , die Suid-Afrikaanse Skolewet Wet nr. 84 van 1996 en alle regulasies en riglyne wat die Minister of Departement van Onderwys.
In Hoërskool Duineveld gee ons die ereplek aan God en is dankbaar vir die talente wat ons van Hom ontvang het. Ons as onderwysers en leerders streef na die universele waardes soos liefde, waarheid en hoop, en streef ons daarna om uitnemende onderwys te handhaaf en uit te bou tot voordeel van ons land en sy inwoners.
Vir ons as onderwysers van die Hoërskool Duineveld is elkeen van ons leerders kosbaar. Hulle welsyn en geluk is vir die skool ’n hoë prioriteit. Ons roeping as onderwysers is om, aanvullend tot hul ouers of voogde, ons leerders na volwaardige volwassenheid te begelei. Ons streef, deur aan ons leerders geleenthede te skep, na uitnemendheid in ons skool en poog om elke leerder vir die lewe voor te berei om as volwassene sy/haar plek in die samelewing te kan volstaan.
Kernwaardes:
As onderwysers en leerders van die Hoërskool Duineveld streef ons die volgende kernwaardes na:
1.Liefde
Ons strewe daarna om liefde teenoor ons onderwysers, mede-leerders en mederes uit te leef.
2. Respek
Ons aanvaar gesag, respekteer ons onderwysers en leiers en ondersteun hulle volledig. Ons eer ons moedertaal en gebruik dit met trots en waardigheid, maar respekteer terselfdertyd ook alle ander tale van ons land.
3.Integriteit
Ons praat in alle omstandighede die waarheid en streef altyd eerlikheid na.
4.Nederigheid
Ons is trots in alles wat ons doen en vermag, maar bly in alle omstandighede, in oorwinning en nederlaag, altyd nederig.
5.Gehoorsaamheid
Ons is gehoorsaam en eer ons ouers en onderwysers.
6.Verantwoordelikheid
Ons neem verantwoordelikheid vir ons gedrag, en deur die nagevolge van ons dade te dra, daaruit te leer.
7. Lojaliteit
Ons besef dat dit ‘n besondere voorreg is om deel te wees van hierdie skool. Daarom is ons lojaal aan die skool en bou ons voort aan sy goeie naam en roemryke tradisie in woord en daad.
8.Gelykheid
Ons respekteer elkeen se reg op gelyke behandeling. Ons behandel alle mense ongeag hul geslag, ras, geloof of enige ander oortuiging wat hul mag hê gelykwaardig.
9.Diensbaarheid
Ons streef in alles wat ons doen om hulpvaardig te wees. Ons leef ons skoolleuse met trots uit – Volhard en oorwin
10.Dankbaarheid
Ons toon ten alle tye die nodige dankbaarheid teenoor ons skool, die onderwysers en teenoor mekaar. Ons is ten alle tye dankbaar vir die gawes en talente wat ons onverdienstelik ontvang.