•  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

RUGBY SEWES

Sebastiaan Jobb het vanaf 2 tot 5 Maart as deel van die o.18 Springbok Sewes span aan 'n internasionale Sewes Rugby toernooi in Windhoek, Namibië, deelgeneem.

Sebastiaan het in die ses wedstryde wat gespeel is drie drieë gedruk. Hy het een drie elk in die wedstryde teen SA All Stars, Duitsland en Botswana gedruk.

Volgens Sebastiaan was die naweek vreeslik lekker en het hy baie geleer. “Alles was baie goed georganiseer en ek is dankbaar vir almal wat dit moontlik gemaak het vir my om te kan gaan.''

Op die vraag of hy Sewes rugby of 15-man rugby verkies het hy net geglimlag en gesê altwee is ewe lekker en dat hy nou verkies om Rugby te speel in enige formaat.

Die SA span waarvan Sebastiaan deel was het al ses hulle wedstryde gewen en het in die finaal teen Namibie te staan gekom. Hulle het maklik-maklik met 45-0 teen Namibie gewen om as kampioene van die toernooi aangewys te word.

Mnr. Venter, Sebastiaan se afrigter sê: “Hy is 'n besondere speler, mens en leier soos al die leierskapsposisies wat hy in Duineveld beklee getuig. Hy het hope potensiaal, maar bly nederig. Hy is definitief een van die beste spelers wat ek al bevoorreg was om af te rig.''

Mnr. Venter sê waar dit Sebastiaan aangaan is die ou cliché baie waar; Daar is geen plaasvervanger vir spoed nie.

Sebastiaan, Velties se vreeslike vinnige vleuel het 'n lang geskiedenis van uitsonderlike prestasies.

Slegs in die eerste drie maande van 2017 is hy aangewys as Duineveld se Victor Ludorum danksy sy 100 meter, 200 meter en verspring rekords wat hy laat spat het. Sy vinnigste tyd in die 100 meter is 10,87 en sy vinnigste tyd in die 200 meter is 21,94. Hy het ook al 6,87 meter behaal in die verspring. Hy is ook lid van die eerste rugby span.

In 2016 het hy al vir die Velties se eerste span uitgedraf en is hy vir die o.18 Griekwas Platteland Cravenweek span as regtervleuel gekies. Hy was ook vir die o.17 Griekwas sewespan gekies  en is as  Duineveld se senior rugbyspeler van die jaar aangewys. Hy is as die o.18 Speler van die Toernooi aangewys by die Southern Cape Sports Tours te George. Hy was ook deel van die Noordkaap Atletiekspan wat aan die SA's deelgeneem het. By die SA's het hy in die Sweedse Aflos 'n silwer medalje gewen.

Hy is ook uitgenooi na SARU se o.17 Elite Player Development kamp tydens die September vakansie.

Sebastiaan sewes foto resize